Die spreekwoord sê ‘n mens moet ‘n gegewe perd nie in die bek kyk nie.
Laat ek dié spreekwoord gou verduidelik, want ons ken mos nie meer idiome nie. ‘n Perd se kondisie kan bepaal word deur na sy tande te kyk. Om dus die waarde van jou geskenk – sou dit ‘n perd wees – te bepaal, moet jy die toestand van jou geskenk se gebit beoordeel. Min tande; swak geskenk! Baie gesonde, wit tande: goeie geskenk!
Laat dit nou maar só wees, maar na die hoeveelste spreekwoordelike gegewe perd van onderbroeke, dasse of skroewedraaiers raak dit darem net vir enige ontvanger van dié perd net een te veel!
Die gee van sinvolle en funksionele geskenke is voorwaar ‘n kuns. Menige geskenk het al baie ongemak en selfs aanstoot veroorsaak.
Selfs die gee van ‘n geskenk om dankie te sê vir ‘n aandjie uit, kan groot konsternasie in ons multikulturele wêreld veroorsaak. Dit mag selfs die spreekwoordelike Trojaanse perd in ‘n vriendskap loslaat.
Ek is seker jy het al met blomme onder die arm by ‘n ete opgedaag. Dalk gedink jy is oulik, maar as dit ‘n bos frangipani’s vir ‘n Indiese dame was, sou jy nie te gewild gewees het nie. Frangipani’s word in Indië met begrafnisse geassosieer.
Moet ook nie in China vir jou gasheer ‘n horlosie as geskenk gee nie, want ‘n horlosie simboliseer die dood. Sakdoeke simbolisieer vir Italianers verdriet en enige skerp item soos ‘n mes of sker is ‘n uiters onvanpaste geskenk.
Moet ook nie vir ‘n Duitser bier gee nie, want hulle glo niemand kan bier beter as hulle self brou nie. In dieselfde asem, moet nie vir ‘n Fransman wyn gee nie, want sy kelder het reeds die beste. Of vir ‘n Belg sjokolade nie!
Nou wat de ongeluk gee ‘n mens dan?
Gelukkig is ons Suid-Afrikaners nie te vol kinkels as dit by die ontvangkant kom nie. Iets te ete is altyd welkom. So ook iets te drinke!
Maak egter net seker dat jy nie later dieselfde bottel aan die skenker terug gee nie! Veral nie as jy van oordeel was die gegewe perd se tande was ietwat aan die min kant nie, en om die rede nie self gebruik het nie.
En as dít nie werk nie?
Raak ontslae van jou bygelowige vriende!
One must know not just how to accept a gift, but with what grace to share it. – Maya Angelou
In suggesting gifts: Money is appropriate and one size fits all. – William Randolph Hearst
The manner of giving is worth more than the gift. – Pierre Corneille
Image: Tina Phillips/FreeDigitalPhotos.net