Tag Archives | Dood

Wat is raai, Oupa?

Ek sê nou die dag vir Luca (ons kleinseun) hy moet raai hoeveel klippies in my hand is.

Wat is raai? is sy teenvraag.

En daar snoeker hy my geheel en al. Wat ís raai vir ’n driejarige? Hoe verduidelik jy raai aan ’n driejarige? Of nóg moeiliker; hoe verduidelik jy kleur aan ’n blinde? Hoe gee jy betekenis aan ’n begrip wat vir jou as volwassene amper  te simplisties logies is?

Dit is eers as jy probeer verduidelik, dat jy skielik verstaan dat dit vir hom net ’n woord gaan bly. Sonder betekenis.  ’n Woord wat hy eers kan begryp as hy ervaring daaraan kan koppel.

Ek het nou nog nie ’n antwoord nie, maar dit het my laat dink aan wat Pieter de Villiers (coach) nou die oggend gesê het.

Hy sê, kos is net ’n woord in die woordeboek totdat jy honger is. Dan eers kry dit regtig vir jou betekenis.

Woorde soos lewe en dood is ook vir die meeste van ons sulke woordeboekwoorde.  Ons ken hulle, en kan hulle is die regte konteks in sinne gebruik, maar verstaan hulle eers werklik as ons hulle naby aan ons eie lyf voel.

Soos met die skielike afsterwe van my skoonsuster Esmé drie weke gelede. Skielik is dalk ook die verkeerde woord. Dalk is plotseling ’n beter woord, want hoe beskryf jy om binne sekondes dood te gaan aan iemand? Hoe beskryf jy die verskil van sekondes tussen lewe en dood aan iemand wat dit nie beleef het nie.

Net iemand, soos Beyers, wat die een sekonde nog die lewe in die oë kon sien en die volgende oomblik die leweloosheid kon waarneem, kan dit verstaan en begryp.  Dit is dan eers dat die verskil tussen lewe en dood begin sin maak. En dan wat retoriek soos ek verstaan hoe jy voel as die totale snert wat dit is, ontmasker word.

Want jy kan net verstaan, as jy dit al sélf beleef het.

Maar dit is ook in die verstaan van lewe en dood dat ander woordeboekwoorde betekenis begin kry. Dit is hierdie tyd van hopelose onbegrip en seer dat vriendskap, huil en omgee sin begin maak.

Dit is wanneer jy opgehuil is en die dominee tydens die diens sê dat die kortste teks in die Bybel in Johannes 11:35 staan: Jesus het gehuil, dat jy verstaan hoe Jesus oor sy vriend Laserus se dood gevoel het. En dat jy weet dit is OK om te huil.

Ek het ook besef Naas is verkeerd. Cowboys do cry. Want die hoeveelheid huil wat groot manne kon huil, is verstommend. Johan Kat se lang lyf met die trane wat oor sy wange stroom; André, Balie, Abré, Paul en al die ander se trane het woorde totaal onnodig gemaak.

Geen woorde kan meer betekenis hê as wanneer dit met trane gesê word nie. Trane maak woorde onnodig, want trane sê ek is hier vir jou; ek deel jou pyn asof dit my eie is.

Manne druk mekaar ook glo nie. Sê wie? As dit nie vir druk en vashou in hierdie tyd was nie, sou ons seker weggedryf het in ’n see van hopeloosheid. Vashou en saamhuil was ’n boei in hierdie storm van hartseer. Vasdruk was soos ’n kaai waarteen jy vir ’n oomblik kon rus en sê dankie, hier is ek veilig.

Dit is ook as ons midde in hierdie storm is dat ons woordeboekwoorde beter verstaan. Dit is dan dat ons hand en mond belowe om nie weer vriendskap, omgee en huil op die rak te laat staan nie.

Maar helaas. By die volgende begrafnis besef ons net weer met ’n skok dat van dié woorde weer êrens in die woordeboek opgeneem is.

Wat is raai, Oupa?

Ek kan nog nie verduidelik nie, Luca.  Maar ek weet ek raai nie meer oor wat huil, vriendskap en omgee beteken nie.

Ek verstaan dit nou.  Ek het dit weer vars aan my lyf gevoel en beleef.

Laat Oupa liewers aan jou verduidelik dat huil meer as woorde sê; dat vriendskap meer werd is as goud en dat die lewe régtig baie, baie kort is.

En dat omgee beter is as om vir die eerste span te speel.

Gegroet, Esmé.

Dankie dat jy weer die woordeboek vir my kom oopmaak het.

 

Tears are words the mouth can’t say nor can the heart bare. – Joshua Wisenbaker

Friends are the family you chose. – Jess C. Scott

Hold a true friend with both your hands. – Nigerian proverb

 

Continue Reading

Wat ons sal sê as jy dood is…

Ek het nie vir Jakes Gerwel geken nie.

Geweet van hom, maar nie geken nie.

Maar as ek lees wat die mense van hom sê, dan was hy ‘n formidabele mens.  Met die klem op mens.

Iemand wat nie net aan homself gedink het nie, maar aan al die ander rondom hom. Hy was ’n ware dienaar. ’n Dienaar van sy mense en van sy land.

Nog iemand wat my baie aan Jakes Gerwel laat dink, is Van Zyl Slabbert wat op 14 Mei 2010 oorlede is.

Breyten Breytenbach het op 15 Oktober 2009 ’n brief, wat hy met die volgende woorde afgesluit het, aan Slabbert geskryf:

My vriend, jy wat so lief is vir die gedigte van Van Wyk Louw het my dikwels daaraan herinner dat die dag kom wanneer die wyn oor die glas se donker rand gestort word. Dis onvermydelik. Ons sal die Grootbeer nie kan pypkan wanneer hy ons nader wink nie. Maar watter wonderlike lewe was dit nie!

Hier is ons nou, blink gelap maar skoon. Ons sal ons nie laat onderkry nie. Van oorkant die water lig ek ’n glasie om vir jou te sê: Dankie, my maat. Dankie vir alles. Kyk mooi na jouself.

Ons waardeer jou. Ons eer jou. Ons is lief vir jou, Oubaas.

Gelukkig is Sabbert nog tyd gegun om dié pragtige woorde te kon lees.

Wonder jy ooit wat ons oor jou sal sê as jy dood is?  Wie gaan daar wees en wat gaan hulle sê?

Miskien is dit presies die parallaksfout wat baie mense met hul lewens maak. Die gewonder oor wat hulle gaan sê.

Dit is in elk geval die mense wat wonder oor wat mense oor hulle gaan sê, wat met oppervlakkighede en banaliteite na hul dood tevrede moet wees.

Mense soos Jakes Gerwel en Van Zyl Slabbert wat nie wonder oor wat mense sal sê nie, dis oor hulle wat Russel Botman skryf en sê:

Almal moet egter verstaan: Jakes Gerwel, die revolusionêre denkleier, is nie weg nie, hy is net oorlede.

Hulle is nie weg nie …

 

To live in hearts we leave behind is not to die. Thomas Campbell

In three words I can sum up everything I’ve learned about life: it goes on. Robert Frost

Every man dies. Not every man really lives. – William Wallace

Continue Reading