Almal ken die uitdrukking, hy ly aan klein-mannetjie-sindroom.
Maar hoe meer ek my op ons voorstedelike paaie bevind, hoe meer oortuig is ek dat ons hierdie uitdrukking moet verander. Die klein mannetjie moet vervang word met klein karretjie, want jy moet nie net op jou hoede wees vir gate in die pad nie, maar ook vir klein karretjies.
Net toe die klein 50cc piskriekmotorfietsie, met daai senutergende uitlaatgeluid soos ’n weed eater op steroids van die toneel verdwyn, en ek dink nou het ek vrede, maak die klein karretjie sy buiging.
Die een kleiner en meer ekonomies as die ander. Die een groener en gesonder vir die samelewing as die ander. Almal met sulke kort naampies om by hulle statuur te pas.
Alles goed en wel, maar blykbaar het die verkoopsman gerieflikheidshalwe vergeet om een baie belangrike feit onder sy koper se aandag te bring: Hierdie is ’n klein karretjie! Nie ’n formule I-prototipe nie! Daar is net twee silinders. Ry versigtig.
Wie blits by jou oor die sperstreep verby? ’n Taxi? Nee, kyk weer. Dit is ’n klein karretjie!
Wie weet nie dat ’n mens stadiger as 120 km per uur mag bestuur nie? ’n Klein karretjie!
Wie het ’n klanksiteem wat elke taxibestuurder begeer? Reg geraai. Die klein karretjie!
En nou wil hulle my bakkie met een of ander groentaks kom belas! Wat dan van die klein karretjie?
Ek wil sê: Gee my enige dag die klein mannetjie, maar kry asseblief die klein karretjie van ons paaie af.
Many a small thing has been made large by the right kind of advertising. – Mark Twain
I play the harmonica. The only way I can play is if I get my car going really fast, and stick it out the window. – Steven Wright
Have you heard about the Irishman who reversed into a car boot sale and sold the engine? – Frank Carson
Skets: Liana Erlank