Suid-Afrika se MasterChef is aan die kook en elke hierjy dink hy’s ‘n Gordon Ramsay. As jy ‘n lepel kan vashou en ‘n paar knope kan los, dan is jy ‘n groter celeb as Riaan Cruywagen by die KKNK!
Wat ek nie verstaan nie, is dat elke deelnemer meer flambojant as die ander wil wees. Snaakse konkoksies en fyn geurtjies om die beoordelaars te beïndruk. Selfs die goeie ou braai word opgejack dat dit soos ’n pastorie-mammie wat ‘n oorlede Michael J-move op die verhoog uithaal, lyk!
En dit gebeur nou alles net op dié stadium dat ek en vriend Braaitang meen ons het broodbak onder die knie. Let wel, nie daai fancy brode met die krulle en goed nie. Gewone brood. Potbrood en oondbrood. Eenvoudig en reguit van sy ma af.
Dis snaaks, so gesels ons, dis amper asof ons van al ons kookery die meeste genot uit broodbak kry. En moet nou nie ‘n fout maak nie, ons kan ook die stoppe uittrek as dit moet. Cordon Bleu en al daai ander kosserige kragwoorde.
Miskien is die knie, meer Braaitang. Die knie-ery is terapeuties van aard. Emosioneel amper. Jou eie kopdokter; net sonder die rekening.
Brood het ook ’n eie identiteit. Amper so asof dit ’n eie wil het. Jy kan dit vorm soos jy wil, maar op die ou einde neem dit sy eie vorm aan. Nie een brood lyk presies dieselfde nie.
Terwyl jy knie, dink jy ver. Jou kop begin saam met die ritme van die knieproses paaie loop. Die filosoof in jou kom los en jy kry kans om die daaglikse warboel netjies te liasseer.
Die Hongare het ‘n spreekwoord dat brood ouer as die mens is. Vir my is broodbak die aardste bakproses wat ek ken. Eenvoudige bestanddele. Meel, water, sout, suiker, olyfolie en gis. Basisbestanddele; onopgesmuk en eerlik.
Broodbak is ‘n leefwyse. Braaitang meen broodbakkers is goeie mense. Naby-die-aardemense.
Broodbak is liefde. Om brood te bak is om van jouself te gee, want dit verg moeite. Anders kon jy maar net so wel kafee toe gery het om ‘n plastiekbrood te gaan koop…
Om brood te bak is ook om te hoop. Te hoop dit flop nie. Meer as dit; om jou brood op die water te werp en te glo dat dit na baie dae sal terug kom.
Om saam brood te breek is vriendskap. Ware vriendskap. Veral as jy die brood self gebak het!
Jy sê jy weet nie waarvan ek praat nie.
Kom, rol op die moue. Laat ‘n bietjie liefde los. Bak ‘n brood!
Broodbak is ‘n metafoor vir die lewe. – Pieter Veldsman
There are people in the world so hungry, that God cannot appear to them except in the form of bread. – Mahatma Gandhi
All sorrows are less with bread. – Miguel de Cervantes Saavedra