Tag Archives | Brood

Oorvloed of Skaarste?

Cornel sê gister op sy 60 ste verjaarsdag dat hulle die paartie vir ons hou. Vir al hul vriende, want dit is hoe hulle wil dankie sê vir dit wat hulle vriende tot hulle lewenspad bygedra het.

Hulle wil hul vriende se bydra tot hul lewe vier en daarom ruk hy en sy vrou al die stoppe uit. Hulle gee vandag graag met oorgawe weg, want hulle het dan so baie ontvang.

Sy woorde het my aan Stephen Covey se oorvloedmentaliteit herinner. Volgens Covey is daar mense (soos Cornel en Suzél) wat met hierdie mentaliteit, dat daar vir almal oorgenoeg in die wêreld is, leef. Maar ongelukkig is daar ook mense wat met die skaarsheidmentaliteit lewe en glo daar sal net nooit genoeg wees nie en daarom moet hul bymekaarmaak en versamel om te oorleef.

Hierdie mense kán of wíl die oorvloedmentaliteit net nie begryp nie. Vir hulle is die Scrooge-mentaliteit net baie makliker om te verstaan. Hou alles baie dig teen jou bors. Opgaar en vasklou is baie makliker as weggee en deel.

Wees gewaarsku! Die Scrooge-mentaliteit is verslawend en selfs dodelik. Voor jy jou kom kry, neem jy na ’n bring-en-braai die minimum. Hou jy jou bring in die mandjie en kyk jy eers of die ander sin nie genoeg is om mee te kuier nie, want dan kan jy jou kosbare proviand weer huis toe neem. En jy kamoefleer hierdie inhalige daad onder die vaandel van spaarsamigheid (of wat jy ook al wil glo).

Covey se abundance mentality sê daar is genoeg vir almal. Moenie worrie nie. Jy sal jou deel kry. Jy hoef nie ander uit die pad te storm om eerste die winskopie te gryp of jou bydrae laaste uit die mandjie te haal nie. Wees daarom vrygewig, deel uit en verbly jou in ander se sukses en goeie geluk.

Die Bybel sê ook dat jy jou brood op die water moet werp en dit nie in jou mandjie moet los nie.

Truter sê as iemand van jou twee uie vra, neem drie. Want slegs deur meer te gee as wat daar van jou gevra word, sal jy die vreugde van oorvloed ondervind. En kan jy daardeur dankie sê dat jy so baie ontvang het.

Wakker loop, want voor jy jou kom kry, verander spaarsamigheid in suinigheid en suinigheid in ingatheid.

En ingatheid is ’n lelike ding; dit wys op jou gesig!

It is preoccupation with possessions, more than anything else, that prevents us from living freely and nobly. – Thoreau

Three great forces rule the world: stupidity, fear and greed. – Albert Einstein

He is no fool who gives what he cannot keep to gain what he cannot lose. – Jim Elliot

Continue Reading

Broodbak is ‘n metafoor.

Self gebak!

Suid-Afrika se MasterChef is aan die kook en elke hierjy dink hy’s ‘n Gordon Ramsay. As jy ‘n lepel kan vashou en ‘n paar knope kan los, dan is jy ‘n groter celeb as Riaan Cruywagen by die KKNK!

Wat ek nie verstaan nie, is dat elke deelnemer meer flambojant as die ander wil wees. Snaakse konkoksies en fyn geurtjies om die beoordelaars te beïndruk. Selfs die goeie ou braai word opgejack dat dit soos ’n pastorie-mammie wat ‘n oorlede Michael J-move op die verhoog uithaal, lyk!

En dit gebeur nou alles net op dié stadium dat ek en vriend Braaitang meen ons het broodbak onder die knie. Let wel, nie daai fancy brode met die krulle en goed nie. Gewone brood. Potbrood en oondbrood. Eenvoudig en reguit van sy ma af.

Dis snaaks, so gesels ons, dis amper asof ons van al ons kookery die meeste genot uit broodbak kry. En moet nou nie ‘n fout maak nie, ons kan ook die stoppe uittrek as dit moet. Cordon Bleu en al daai ander kosserige kragwoorde.

Miskien is die knie, meer Braaitang.  Die knie-ery is terapeuties van aard. Emosioneel amper. Jou eie kopdokter; net sonder die rekening.

Brood het ook ’n eie identiteit.  Amper so asof dit ’n eie wil het. Jy kan dit vorm soos jy wil, maar op die ou einde neem dit sy eie vorm aan.  Nie een brood lyk presies dieselfde nie.

Terwyl jy knie, dink jy ver. Jou kop begin saam met die ritme van die knieproses paaie loop. Die filosoof in jou kom los en jy kry kans om die daaglikse warboel netjies te liasseer.

Die Hongare het ‘n spreekwoord dat brood ouer as die mens is. Vir my is broodbak die aardste bakproses wat ek ken. Eenvoudige bestanddele.  Meel, water, sout, suiker, olyfolie en gis. Basisbestanddele; onopgesmuk en eerlik.

Broodbak is ‘n leefwyse. Braaitang meen broodbakkers is goeie mense.  Naby-die-aardemense.

Broodbak is liefde. Om brood te bak is om van jouself te gee, want dit verg moeite. Anders kon jy maar net so wel kafee toe gery het om ‘n plastiekbrood te gaan koop…

Om brood te bak is ook om te hoop. Te hoop dit flop nie. Meer as dit; om jou brood op die water te werp en te glo dat dit na baie dae sal terug kom.

Om saam brood te breek is vriendskap. Ware vriendskap. Veral as jy die brood self gebak het!

Jy sê jy weet nie waarvan ek praat nie.

Kom, rol op die moue. Laat ‘n bietjie liefde los. Bak ‘n brood!

 

Broodbak is ‘n metafoor vir die lewe. – Pieter Veldsman

There are people in the world so hungry, that God cannot appear to them except in the form of bread. – Mahatma Gandhi

All sorrows are less with bread. – Miguel de Cervantes Saavedra

Continue Reading