Tag Archives | Boarding pass

Verkeerde sitplek #2

Hierdie vooraf bespreek van sitplekke op vlugte werk darem lekker!  

Jy kan op jou eie tyd jou sitplek gaan uitsoek en dan besluit of dit ‘n venster of gangetjie sal wees. En dan, amper asof jy stem, jou kruisie op jou sitplek gaan maak. Gemerk. Dis myne!

Dan druk jy ook sommer gerieflik jou instapkaartjie uit en al wat kort is die lift off.

So sit ek dan nou die dag op my gekose sitplek teen die venster en wag vir die opstyg. Niemand langs my nie en sake lyk belowend. 

Oorkant die paadjie sit ’n man en sukkel om sy selfoon af te skakel toe daar iemand by hom vashaak en vra of dit sy sitplek is. Natuurlik, dom vraag. Dis myne; kan jy nie sien ek sit dan hier nie?

Die lugwaardin, met haar chicken or beef-wysheid, word ingeroep om die saak te besleg. Sy wil die sittende se boarding pass sien. Na ’n gesukkel deur al sy sakke kry hy dit en met ’n ek-sê-jou-mosfrons gee hy dit aan haar.

Al wat ek hoor, voor hy na sy regte sitplek vertrek, is: Sir, this is not your seat!  You are sitting on you’re boarding gate’s number!  Your seat is…

Dié insident het my laat wonder hoeveel mense óók op hul boarding gate sit?

Ons sit die hek na die lewe so toe dat ons nie eens by ons sitplek kan uitkom nie! Maar ons laat ook niks of niemand deur daardie hek nie en self gaan sit ons nie op ons sitplek nie. En dan wonder ons waarom ons nie verder as die boarding gate met ons lewe kom nie.

Baie mense is heel tevrede om by die boarding gate te bly.  Dit is nou nie soos om te vlieg nie, maar dit is OK. Hulle raak gewoond aan die boarding gate, want hulle leer hul kan daarmee saamleef. Dit is nou nie vuurwerke en champagne nie, maar jy kan dit verdra.

Maar sonder dat hulle dit weet, begin hul drome, om eendag self te vlieg, sterf en die vlammetjie van hoop begin laag brand. Of soos Koos Kombuis dit sou stel, hul begin onder die broodlyn van hul hart leef.

As jy nie deur die hek stap en gaan sit nie, sal jy nooit die spoed van opstyg en die stamp van lugknikke ervaar nie. Jy gaan nooit die losskeurpyn in jou hart vir die wat jy by die boarding gate agterlaat, ervaar nie. Maar ook gaan jy nooit die opgewondenheid beleef om die sitplekgordel los te klik en weet jy is weer by die huis nie.

Praat nie eens van die opwinding om tussen chicken or beef te moet kies nie!

Die lewe is nie vir die boarding gate gemaak nie. Die lewe is vir gaan- sit-op-jou-sitplek gemaak.

Bill McKenna verstaan dié storie blykbaar as hy sê: Life is not a journey to the grave with the intention of arriving safely in one pretty and well preserved piece, but to skid in broadside, thoroughly used up, worn out and defiantly shouting GERONIMO!

Kom nou, stap deur die boarding gate

Jou sitplek is nog leeg.

 

The reason birds can fly and we can’t is simply because they have perfect faith, for to have faith is to have wings. – J.M. Barrie

I have known many who could not when they would, for they had not done it when they could. – Francois Rabelais

Procrastination is the art of keeping up with yesterday. – Don Marquis

Continue Reading

Verkeerde sitplek #1

Dit is Saterdagmiddag op Lanseria en die laaste vlug vir die dag Kaap toe, is betyds.  Alles  loop reg, altyd reg …

Met dié lied in my hart bestyg ek die groen vliegtuig met sy guitige lugwaardinne. Soos ek in die paadjie afstap, skat ek my sitplek.  Net soos ons in die Army geleer het, maar ek tref dooie grond daar waar ek moet sit. ’n Ouerige man sit reeds in 11F. Ek kyk weer of ek nie dalk verkeerd met my nommers is nie, maar my boarding pass sê definitief 11F.

Steeds met die lied in my hart, verneem ek na die man se sitpleknommer en ontdek hy sit eintlik op 10F. Ek bied aan om sommer met dieselfde lied in my hart op sy plek te sit.  As die oom nie sal omgee nie.

Ek is nie jou oom nieEk is baie jonger as jy … kom my lied met so ’n skreeu-krapgeluid, soos ’n naald wat van ’n seven single afglip, tot stilstand.

Jammer oom; ag ek bedoel meneer!

Ek sak liedloos in 10F neer en wonder oor die oom in die sitplek agter my. Dat hy wel baie grondpad in sy lewe gery het, is nie te betwyfel nie, maar jonger as ek? Not a dêm!

Die groen vliegtuig (met die regte kant bo) styg uiteindelik, terwyl die lugwaardinne pittige rympies aframmel, op en ek wonder wat is dit met mense dat hulle nie ge-oom of –tannie wil word nie?

Al moet ek dit self sê, ek dra my oom-badge met diesefde trots as my oupa-badge.

Ons word tog almal (óók die meneer in mý sitplek!) die een of ander tyd oud. Ouderdom is onvermydelik.

Onwillekeurig dink ek aan Morrie Schwartz (Tuesdays with Morrie) waar hy vir Mitch Albom sê dat as jy die heel tyd teen die oud word gaan baklei, gaan jy baie ongelukkig wees, want of jy nou wil of nie; oud gaan jy word.

Toe Mitch vir hom vra, nadat hy hom moes optel en bed toe dra, of hy nie jaloers is op die jeug nie, was sy antwoord:

The truth is, part of me is every age. I’ve been through all of them and I know what it’s like. How can I be envious of where you are – when I have been there myself?

Die lied begin weer saggies in my speel. Maar hierdie keer is dit ’n nuwe wysie …

Que sera sera, whatever will be will be, the future’s not ours to see …

Ek loer oor my skouer na die man agter my in 11F en ek sê vir hom ek is jammer dat ek hom vir ’n oom aangesien het. Maar hy hoor my nie, want hy snork oopmond met ’n druppel kwyl wat stadig by sy mondhoek uitloop …

Net soos die ooms in die siekeboeg van die ouetehuis.

 

You can only be young once. But you can always be immature. – Dave Barry

Growing old is mandatory; growing up is optional. – Chili Davis

None is as old as those who have outlived enthusiasm. – Henry David Thoreau

Continue Reading