Tag Archives | Beter

Wenke vir ‘n beter nuwe jaar

Ek hoop net dat volgende jaar ‘n beter jaar sal wees!

Hierdie versugting is male sonder tal oor die TV en in die media geopper as mense oor hulle verwagtinge vir die nuwe jaar gepols is.

Wat ek egter nie verstaan nie, is wat hulle met beter bedoel?

Soek hulle meer geld, beter gesondheid of ‘n beter werk?

En hoe kan ‘n nuwe jaar sommer so op sy eie besluit dat dit beter sal wees as die vorige?

Gelukkig is die beter wees van ‘n jaar nie iets waaroor ‘n mens geen beheer het nie. Toegegee, daar is goed soos siekte, dood en ander peste waaroor niemand beheer het nie, maar dis algemene kennis dat die pawpaw die een of ander tyd ons almal se fan gaan tref.

Maar daar is genadiglik baie meer faktore, om van die nuwe jaar ‘n beter een te maak as die vorige, waaroor ons beheer het. Bygesê, as die vorige een dan nie goed genoeg was nie.

Probeer gerus hierdie wenke vir ‘n beter nuwe jaar:

#1: Moenie beloftes maak wat jy nie kan nakom nie. Nie aan jouself of aan ander nie. Ek het hierdie vakansie die waarheid opnuut besef toe Klasie, na herhaalde oproepe en aanmanings, nie my braaihout op Onrus kom aflewer het nie. Maar dit is nie net Klasie nie; ons doen dit ook deur goed aan onsself en ander te belowe wat ons weet net nie waar kan word nie.

#2: Bekommer jou oor die dinge waaroor jy wel beheer het en wat jy kan verander. Sien om na jou gesondheid, vriende en omgewing. Hou op om jou oor wat oor tien jaar van nou af kan gebeur te bekommer, want daardeur vergeet jy om nóú te leef.

#3: Leef ligter. Letterlik en figuurlik. Raak ontslae van goed wat jou denke beperk en besittings wat jou vaspen. Besef dat jy genoeg het en kyk net ‘n bietjie om jou rond om te sien dat jy in elk geval baie meer as die deursnee Suid-Afrikaner besit. En gooi sommer ‘n paar kilo’s af!

#4: Leef hierdie jaar met dankbaarheid. Dankbaar dat jy nog ‘n kans kry. Dankbaar vir elke genade wat jy ontvang en eintlik glad nie verdien nie.

#5: Moenie wag vir groot geleenthede om fees te vier nie. Maak van elke klein geleentheid ‘n feestelikheid!

#6: Vergeet ‘n slag van jouself en konsentreer op ander. Skop die eie ek onder sy jis en leef ‘n slag vir ons.

#7: Soek ‘n slagspreuk of motto vir hierdie jaar en plak dit iewers op waar jy dit elke dag van hierdie jaar kan sien (of maak dit jou screensaver). ‘n Motto wat alles vasvat wat jy die jaar wil bereik. My motto vir dié jaar is die volgende woorde van Richard Branson: The brave do not live forever, but the cautious do not live at all.

Gesondheid op ‘n beter 2013!

I think in terms of the day’s resolutions, not the year’s. – Henry Moore

Cheers to a New Year and another chance for us to get it right. – Oprah Winfrey

New Year’s Day is every man’s birthday. – Charles Lamb

Continue Reading