Het jy al van ’n Hamam gehoor?
Nog nie? En nee, jy kan dit beslis nie met ’n mes en vurk eet nie! Dit is ook nie ’n mediese kondisie of ‘n danspassie nie.
’n Hamam is ’n Turkse bad!
Amper ‘n kruising tussen ’n sauna en ’n massage.
Tydens my vorige besoeke aan Turkye het ek nog nooit by die neem van ’n Hamam gekom nie. Deels omdat daar te baie was om te sien, en die tyd min, maar ook omdat ek ’n bietjie skrikkerig was.
Daarom was dit hierdie keer heel bo aan my lysie. Ek het opgelees en uitgevra en uiteindelik was ek gereed om daai dunnerige handdoekie, ‘n pestamal, om my lende te vou.
By hierdie delikate stap in die voorbereidingsproses het ’n mens ’n keuse. Jy kan ’n swembroek of iets anders onder die handdoek aan hou, of jy maak soos ’n ware Turk dit doen. Au naturel. En wie is ek nou om vroom te wees as ons leiers vir ons die voorbeeld stel? Oop ketel – Afrika is leeuwêreld!
Met net die handdoek om verdwyn ek in ’n mistige vertrek, wat glo lank voor Jan van Riebeeck geweet het hy kom Kaap toe, gebou is. Nogal in 1584 deur ’n een of ander Turkse sultan se vrou.
In hierdie saal is daar ’n moewiese groot verhitte marmerblad waarop jy veronderstel is om te gaan lê. Ek kyk rond en wonder waar my hulp vandaan gaan kom, maar al wat ek sien, is manne met sulke groot oë. Nóg vreemdelinge in Istanbul wat die moed bymekaar geskraap het om te kom bad!
Uiteindelik maak ek maar soos almal om my en strek my op die warm klip uit. En ek begin te sweet. Nie normale sweet nie. Letterlik soos die uitdrukkig sê, jy sweet op plekke wat jy nie eens geweet het jy het nie!
Toe ek net soos ’n droë vrug wil begin voel, verskyn daar uit die mis ’n besnorde Turk lang my. Ook met ’n handdoekie om. Nou worrie ek nie meer oor die bo bly van my ou doekie nie. Ek hou nou Evel Knievel sin dop, want as daai doekie val, is ek in die verkeerde plek!
Gelukkig by dit bo en hy beduie ek moet nader skuif. Hier tot op die rant, want hy wil my nou begin bad. Voor ek ’n geluid kon maak, kry hy my beet en keer ’n paar gellings water oor my uit! En net voor ek kan verdrink, gryp hy iets wat soos ’n kussingsloop lyk en druk dié in ‘n emmer langs hom. Die sloop verskyn wonderbaarlik soos ’n seepballon bo jou kop en met een vernuftige trek van sy hand word ’n bolling seep oor jou uitgegiet.
Ek wou nog vra of hy dalk seep kan gebruik wat nie my oë sal brand nie, toe begin ou Snorre my al skrop. Letterlik van kop tot toon. Al wat nie deurloop nie, is my presidensiële plekke. Dié verneem ek genadiglik moet jy self verf, ek bedoel skrop.
Hierna volg nog emmers water en uiteindelik kan ek weer sien. Die Turkse weergawe van Magnum PI druk my weer op die marmer plat en verduidelik met handgebare en drie woorde Engels dat ek moet lê. Nog tien minute en dan kan ek gaan stort. En dan volg sy ander drie Engelse woorde: Then you tip!
Na my stort dog ek die ondervinding is verby en ek kry so ’n amperse verligting oor my. Daardie vermakerige gevoel as jy iets waaghalsig gedoen en reggekry het. Maar net voor ek whê kan sê, keer ’n ander seun van ’n sultan my voor en beduie dat ek moet terug na die warm kamer.
Regtig? vra ek. Regtig, sê hy in Turks en daar lê ek weer op die marmer.
Ek begin nou wonder hoe kom ’n mens hier uit?
Later begin ek my oorgee aan die warmte en kom ek agter ek sweet nie meer nie. Dit is wat die Turk wou hê. Ek begin die affêre nou verstaan. My spiere ontspan en ek gee my aan die wonder van die hamam oor.
Waarom jaag ons alles so af? Hierdie Turke het beslis iets beet.
Ek begin visioene sien. Turkse sultans en hul harems wat dae lank bad. Cleopatra en haar bad vol melk. Dalk moet ek ook so iets in Bellville begin?
Bou my braaiplek toe. Koop nog ’n ketelbraai en sit ’n stuk marmer bo-op. Snorre (Div) is hoeka sonder werk en met ’n handdoekie om kan hy maklik vir die ware Jakob deurgaan…
’n Koue emmer water tref my tussen die blaaie en my visioene verdamp saam met Snorre by die koepel van die hamam uit.
Dit is weer Magnum PI.
You finish. When you tip?
En tot my skok besef ek dat die Wet van Transvaal selfs so ver soos hier in Turkye geld!
If the poor overweight jogger only knew how far he had to run to work off the calories in a crust of bread, he might find it better in terms of pond per mile to go to a massage parlor. – Christiaan Barnard
Don’t call the world dirty because you forgot to clean your glasses. – Aaron Hill
A pint of sweat will save a gallon of blood. – George s. Patton
Rian, ek dink dis veiliger om by die huis te bad.
Pierre
Nee, hoe praat meneer dan nou?