Ek sien gister hierdie boom in Stellenbosch en die volgende woorde uit Vroegherfs van NP van Wyk Louw pop in my gedagtes op:
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
In wingerd wat verbruin…
En hier volg die res van die gedig:
…en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte more witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en vér was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
No comments yet.