Ek is oortuig die nimmereindigende stroom bedelaars by my voordeur sou die Samaritaan geknak het. Barmhartig of te not!
Boonop wil dit vir my lyk of elke besige kruising deesdae ook met ’n bedelaar ge-issue word.
Gee werk, gee kos. Help ’n bietjie. André.
Op elke stukkie denkbare karton word tranetrekker-jeremiades geskryf. Vinnig geoordeel; baie min van dié skrywers het hul lopende skrif in graad 2 geslaag!
Hulle stoei met ander manne wat elke artikel wat jy uit draad kan vleg, of wat jy uit China kan kry, verkoop, vir die beste staanplek op die middellyn van die pad.
Só sit ek nou die middag weer by ‘n verkeerslig en staar in die emosielose gesig van nóg ’n plakkaathouer. Sy gesig uitdrukkingloos en die toonbeeld van ’n stamboeksnotpsalm*.
Dis Saterdagmiddag en die moontlikheid van ’n goeie oes vir hom, lyk vir my skraal.
Niemand in die Pajero’s of BMW’s lyk of hulle die bedelaar eens opmerk nie. Wat nog te sê dat hulle hul beursies gaan oopmaak!
Reg voor my staan en bewe ’n Mazda tree-to-tree wat lyk of dit uit ’n boom geval het… ’n paar keer gerol en wonderbaarlik weer op sy wiele te lande gekom het.
Net voor die lig na groen verander, verskyn daar skielik ’n arm deur die tree-to-tree se voorste ruit. Dié arm wink in die rigting van die plakkaatdraer en ’n groen tienrandnoot weerkaats helder teen die swart teer. Net vir ’n oomblik sien ek ’n flikkering van emosie op die bedelaar se gesig en sy standbeeldlyf kry wonderbaarlik lewe.
En daar op die stopstaat, verstaan ek skielik die gelykenis van die tannie met die twee geldstukkies in die Nuwe Testament.
Dié tannie het gegee. Al het sy dit self nie eens so breed gehad nie.
Sy het gegee, want sy het geweet wat dit is en hoe dit voel om nie te hê nie.
Ons wat so baie het, en net gee uit die oorvloed van wat ons besit, gee nog nie regtig nie.
Dit is darem al iets, hoor ek jou sê.
Toegegee, maar miskien sus ons net ons gewete, want ons weet van die ryk man en die naald se oog.
Die Mazda stotter en dit lyk of dit sy eie rigting wil inslaan.
Dalk op soek na nóg ’n kruising met ’n storie om te vertel.
When you learn, teach. When you get, give. – Maya Angelou
For it is in giving that we receive. – St. Francis of Assisi
We make a living by what we get. We make a life by what we give. – Winston Churchill
* Snotpsalm: gehuil: Die snotpsalm insit, begin huil. (HAT)
No comments yet.