‘n Oggend by Home Affairs

As staatsdepartemente na idiome vernoem moet word, sal Binnelandse Sake die naam Departement van Job se Geduld kry.

Ek moes hulle onlangs besoek om my paspoort te hernu. Bygesê; sal enige regdenkende mens hulle sommer sonder rede gaan besoek?

Ná gruwelstories oor hoe lank ek gaan wag, en van mense wat as vermis opgegee is in hul poging om ’n ID te bekom, is ek gepantser met voorafvoltooide vorms en alles wat ek dalk kon nodig kry Binnelandse Sake toe.

Om presies twintig oor nege stap ek deur die deure van Binnelandse Sake.  Hul Engelse naam, Home Affairs, beskryf vir my eintlik beter wat tussen daardie mure gebeur.  Nie dat dit enigsins huislik is nie; Nataniël sal dadelik ’n binneshuise versierder vir die plek wil opkommandeer. 

Dat dit ’n affair is, is baie nader aan die waarheid.

’n Mens kan hierdie hele oefening op twee maniere benader.  Eerstens kan jy dit filosofies benader en ’n wilsbesluit neem dat jy jou nie sommer gaan laat ontstel nie. Of jy kan jou vooraf so opwerk oor alles wat gaan/kan gebeur dat jy jou humeur binne die eerste 30 sekondes verloor.  Iets wat nie moeilik is om by Home Affairs reg te kry nie.

Ek is met die nommer-een-benadering daar in.  In die ry ingeval en my nommer gekry. Eerste skok. Nommer 584!

Kalm bly. Daar is nét 583 mense met vorms voor jou. Onthou vir Esme en Jan:  Elke donker wolk het ’n silwer randjie!

Ná ’n bietjie positiewe selfmotivering sak ek tussen ’n diverse Suid-Afrika op ’n bank neer. Korreksie: harde bank neer.

Die oom langs my grinnik simpatiek toe hy my nommer sien. Ek voel asof ek na die nommers van verlede naweek se lottotrekking kyk. Weer nie my nommers nie!

Die oom sê: Wiet djy dat hulle djou ’n rand vra om die toilit te gebruik?

Ek sê: Nee, maar dit is seker om al die rondlopers en bosslapers uit te hou.

Hy sê: Ma dis waarom securitie mos da is! Wie dink djy kry die geld?

Ek sê dat ek nie weet nie, maar dat al die R1-besoeke nogal ’n klomp geld op ’n dag vir iemand kan inbring.

Hy sê: Die plek is oek nie meer soes in die ou dae nie. Toe was dit bieter …

Ek sê: Wat het dan verander?

Hy sê: Hulle sorg nou net vir hulle se mense en hy trek so met sy vinger oor sy wang om te wys wie dan nou eintlik die skuldiges is.

Hy sê: Ek wonne wat hulle sal maak as iemand met ’n swak blaas nou die toilit ’n klomp keer moet besoek en hy hettie geld nie?  Gaan hy somme da voor hulle laat los?

Ek sê: Ja, amper soos die wet van Transvaal!

Hy sê: Hie moet ’n man Djob se geduld hê.

Ek sê: … en Salomo se wysheid!

Skielik hoor ek ’n stem roep dat nommer 584 na toonbank drie moet kom.

Twee uur en 40 minute later loop ek by Binnelandse Sake uit. Gescan, gevingerafdruk, gediversifiseer en hopelik met ’n nuwe paspoort êrens in die onverstaanbare sisteme en prosesse van Home Affairs.

Wat gaan hulle maak as hy sommer daar voor hulle laat los?

Wie sal weet?

 

Bureaucracy is the art of making the possible impossible. – Javier Pascual Salcedo

I bought a doughnut and they gave me a receipt for the doughnut … I don’t need a receipt for the doughnut. I give you money and you give me the doughnut, end of transaction. We don’t need to bring ink and paper into this. I can’t imagine a scenario that I would have to prove that I bought a doughnut. To some skeptical friend, don’t even act that I didn’t get that doughnut. I’ve got the documentation right here … It’s in my file at home … Under “D” – Mitch Hedberg

Image: africa/FreeDigitalPhotos.net

 

(Visited 286 times, 1 visits today)

, ,

No comments yet.

Leave a Reply