Verkeerde sitplek #1

Dit is Saterdagmiddag op Lanseria en die laaste vlug vir die dag Kaap toe, is betyds.  Alles  loop reg, altyd reg …

Met dié lied in my hart bestyg ek die groen vliegtuig met sy guitige lugwaardinne. Soos ek in die paadjie afstap, skat ek my sitplek.  Net soos ons in die Army geleer het, maar ek tref dooie grond daar waar ek moet sit. ’n Ouerige man sit reeds in 11F. Ek kyk weer of ek nie dalk verkeerd met my nommers is nie, maar my boarding pass sê definitief 11F.

Steeds met die lied in my hart, verneem ek na die man se sitpleknommer en ontdek hy sit eintlik op 10F. Ek bied aan om sommer met dieselfde lied in my hart op sy plek te sit.  As die oom nie sal omgee nie.

Ek is nie jou oom nieEk is baie jonger as jy … kom my lied met so ’n skreeu-krapgeluid, soos ’n naald wat van ’n seven single afglip, tot stilstand.

Jammer oom; ag ek bedoel meneer!

Ek sak liedloos in 10F neer en wonder oor die oom in die sitplek agter my. Dat hy wel baie grondpad in sy lewe gery het, is nie te betwyfel nie, maar jonger as ek? Not a dêm!

Die groen vliegtuig (met die regte kant bo) styg uiteindelik, terwyl die lugwaardinne pittige rympies aframmel, op en ek wonder wat is dit met mense dat hulle nie ge-oom of –tannie wil word nie?

Al moet ek dit self sê, ek dra my oom-badge met diesefde trots as my oupa-badge.

Ons word tog almal (óók die meneer in mý sitplek!) die een of ander tyd oud. Ouderdom is onvermydelik.

Onwillekeurig dink ek aan Morrie Schwartz (Tuesdays with Morrie) waar hy vir Mitch Albom sê dat as jy die heel tyd teen die oud word gaan baklei, gaan jy baie ongelukkig wees, want of jy nou wil of nie; oud gaan jy word.

Toe Mitch vir hom vra, nadat hy hom moes optel en bed toe dra, of hy nie jaloers is op die jeug nie, was sy antwoord:

The truth is, part of me is every age. I’ve been through all of them and I know what it’s like. How can I be envious of where you are – when I have been there myself?

Die lied begin weer saggies in my speel. Maar hierdie keer is dit ’n nuwe wysie …

Que sera sera, whatever will be will be, the future’s not ours to see …

Ek loer oor my skouer na die man agter my in 11F en ek sê vir hom ek is jammer dat ek hom vir ’n oom aangesien het. Maar hy hoor my nie, want hy snork oopmond met ’n druppel kwyl wat stadig by sy mondhoek uitloop …

Net soos die ooms in die siekeboeg van die ouetehuis.

 

You can only be young once. But you can always be immature. – Dave Barry

Growing old is mandatory; growing up is optional. – Chili Davis

None is as old as those who have outlived enthusiasm. – Henry David Thoreau

(Visited 566 times, 1 visits today)

, , , , , ,

8 Responses to Verkeerde sitplek #1

  1. Jacob Rheeder October, Wednesday 3 2012 at 8:34 am #

    Ek is op daai ouderdom waar “oom” nog snaaks is, dit maak jou so effe skrik, veral as die incumbent nog kyk- en flikkergooipotensiaal het, ‘n handige wapen vir die incumbents. En ek dink die obvious om mee terug te kap is die afgeleefde “net-nie-nee-oom-nie” of “ek-is-nie-met-jou-tannie-getroud-nie”, maar daai maak jou meer “oom”. Ek voel egter 40-jarige Oom is ‘n ding wat vir sy eie bollie blaf.
    Lekker naweek vir die Oom

    • Rian Truter October, Wednesday 3 2012 at 4:39 pm #

      Raak saam gevat, Jakkie! Ek kan nie glo meisies sal jou as oom aanspreek nie?! Dankie vir die lees en kommentaar! Mooi loop!

  2. magda basson October, Wednesday 3 2012 at 11:06 am #

    Ek moet sê ek is ook in die Tannie of Ouma stadium en geniet dit terdeë.
    Kyk hier binne in my voel ek nog bloed jonk en sien kans vir baie dinge maar die ou liggaam wil nie altyd saamspeel nie – maar dit is lekker want ek het wonderlike jeugjare gehad en het vandag nog net sulke wonderlike tye met my kinders en kleindogter.

    Al wil jy jou graag jonk hou – weet almal is nie dom nie – die mense kan op een of ander maniere sien die jare stap aan – en so “what”, geniet elke oomblik en lewe vir vandag – dis heerlik.

    Die lewe is ‘n lied!!!!

    • Rian Truter October, Wednesday 3 2012 at 4:38 pm #

      Stem 100% saam Magda! Mens moet jou myle met trots wys! Ons het dit verdien. Dankie vir die lees van P&J en die kommentaar. Groete!

  3. Merleen October, Wednesday 3 2012 at 12:35 pm #

    Ai hoe lekker lag ek nou OOM Rian!!! Stuur groete aan al daai TANNIES!

    Liefdegroete van nog ‘n “jonge tante”…

    Mx

    • Rian Truter October, Wednesday 3 2012 at 4:36 pm #

      Selfde Merleen! Dankie vir die kommentaar!

  4. Chris Viljoen October, Wednesday 3 2012 at 7:58 pm #

    Rian, moet bieg, voel nog altyd so effens onkant betrap met die ‘Oom’,wat nou meer dikwels gehoor word! Met die einde van die jaar wat so stadig nader kruip en ek nou noodgedwonge ‘n koevert vol dokumente moet voltooi, is ek ook bewus van die datum op my geboortesetifikaat, maar wonder of ek nie volgende jaar by julle ‘n nuwe loopbaan kan begin nie? Dankie vir Morrie se insig en Thoreau se waarskuwing. Groete. Chris

    • Rian Truter October, Wednesday 3 2012 at 10:16 pm #

      Dankie, Chris! Ons moet praat. Mooi loop!

Leave a Reply