Die wilde perde van Aus – ‘n Perd van ‘n ander kleur!

Tweede beste vriend?

 

Ek kan uit eie ondervinding nie anders as om Amen op die spreekwoord, dat ‘n hond die mens se beste vriend is, te sê nie.

Maar dan wil ek met nuut verworwe kennis byvoeg; as die eerste stelling waar is, dan vermoed ek dat die perd dan die mens se tweede beste vriend moet wees.

 

En dit komende van my wat eintlik boggerol van perde weet!

Die wilde perde van Aus in Namibië, het vandat ek van hulle bestaan bewus geword het, my intens geïnteresseer. So intens, dat hulle stil-stil op my bucket list ’n staanplek kom kry het.

Of dit hulle uithouvermoë in die dorre woestyn is, of net die raaisel van waarom hulle vir jare al op dié barre plek swerf wat my aangetrek het, dit weet ek nie. Maar dat ek hulle met my eie oë wou sien, dít het ek geweet.

En verlede week kon ek die wilde perde van Namibië met my eie oë sien. En aan hulle raak! Wat ’n onbeskryflike voorreg en ‘n ondervinding wat ek vir almal sal aanbeveel.

Die hele belewenis was so veel meer as wat ek ooit verwag het. My hoop was om hulle van ’n afstand te beskou. Selfs al moet dit met ’n verkyker wees; dit sou al genoeg wees. Maar om so naby aan hulle te kom om aan hulle te kon raak, dit sou ek nooit kon droom nie.

Daar bestaan heelwat bespiegelinge oor hoe die perde in die woestyn te lande gekom het. Van ’n storie oor ‘n skip wat by die Oranjerivier gestrand het tot by perde van die Duitse en Suid-Afrikaanse troepe wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog in die woestyn agtergebly het.

Hoe dit ook al mag wees; die wilde perde van die Namib oorleef al van meer as 90 jaar naby die watergat by Garub in hierdie ongenaakbare omgewing.

Behalwe vir die troppies perde langs die hoofpad na Luderitz, is daar die groot samedromming by die watergat. Nie net perde nie, maar ook gemsbokke, volstruise en selfs ’n jakkals wat sy beurt moes afwag om sy dors te les.

Terwyl ek na die perde by die watergat kyk, kon ek nie help om so ’n bietjie jaloers op hulle te wees nie. Hierdie perde leef nou wel in ’n woestyn, maar hulle het weggebreek uit die normale patroon wat vir perde voorgeskryf word. Hulle trek nie iemand se karretjie of hardloop vir iemand ander se gewin die July nie. Hulle lewe onder hulle eie reëls en orde. En wie van ons wil dit nie ook doen nie?

Maar al die wilde perde is nie meer só wild nie. Nie soos die perde wat ons in stofwolke op die sigaretadvertensies oor die vlaktes sien hol nie. Nee, hulle het ongelukkig slim geword en weet dat mense hulle sal voer as hulle naby genoeg kom. Aan die eenkant is dit wonderlik, maar aan die ander kant tragies. Nie alleen verloor hulle hul wildheid nie, maar ook stel hulle hul bloot aan die mens se wispelturigheid. Die een mens voer, maar die volgende kan moor of vermink.

Toe ek die bakkie se neus van die watergat wegdraai, was daar saam met die blydskap ook ’n knaagende bekommernis in my lyf. Selfs ’n melancholiese hartseer om die perde daar te los.

En noudat ek hulle gesien het, nou hou ek elke dag my hart vir my tweede beste vriende in die Namib vas.

I’ve often said there’s nothing better for the inside of a man than the outside of a horse. – Ronald Reagan

Horse sense is the thing a horse has which keeps it from betting on people. – WC Fields

A horse is the projection of peoples’ dreams about themselves – strong, powerful, beautiful – and it has the capability of giving us escape from our mundane existence. – Pam Brown

Daar's water.

 

Nie meer so wild nie!

'n Perd(e) van 'n ander kleur.

 

No regrets. En jy?

Aus regs, of Luderitz links?

By die watergat van Garub moet jy jou beurt afwag.

(Visited 1,326 times, 1 visits today)

, , , ,

7 Responses to Die wilde perde van Aus – ‘n Perd van ‘n ander kleur!

  1. Hennie Greyling July, Wednesday 17 2013 at 8:47 pm #

    Dieselfde voorreg het ons te beurt geval in 2007. Ons was oppad van Keetmanshoop na Luderitz toe ons die watersuiping aandoen. Vir ongeveer ‘n uur het ons die skouspel gade geslaan. Mooies, sterkes met edele inbors het hulle nader gestaan om water te drink. Pragtige diere wat die negatiewe natuuromstandighede moet kan oorbrug vir oorlewing. Skielik het die gedagte posgevat, dat dit die spreekwoordelike “survival off the fittest” moet wees.

    • Rian Truter July, Wednesday 17 2013 at 9:22 pm #

      Hennie, stem met jou saam. Dit is beslis ‘n skouspel en iets om te onthou. Mooi loop en dankie vir die kommentaar.

  2. Christine July, Thursday 18 2013 at 11:11 am #

    Ek is bly jou ervaring was goed veral omdat jy uitgesien het daarna. Hoop jy kom weer terug na ons mooi land vir ‘n kuier. Dit gaan eintlik baie goed met die perde – hulle getalle het baie toegeneem oor die laaste paar jaar. Almal besef wel dat die droogte ‘n werklikheid is. Baie van die perde het nog nie swaar gekry nie en is dalk nie heeltemal bestand daarteen nie. Maar hulle bly mooi.

    • Rian Truter July, Thursday 18 2013 at 2:40 pm #

      Dankie, Christine. As alles loop soos dit moet, dan sien Nam my volgende jaar weer. Dankie ook vir die ekstra info oor die perde. Mooi loop!

  3. Helene Coetzee July, Monday 22 2013 at 11:13 am #

    Hallo Rian

    Soos altyd geniet ek wat jy skryf – ek het ook so `n paar weke gelede my eie blog begin – ek skryf in Afrikaans en Engels – nogal `n uitdaging om dieselfde trant en toon te behou, maar dit gee my die geleentheid om meer mense te bereik.

    Gaan lees gerus my blog by http://helenecoetzee.blogspot.com

    Groetnis

    Helene

    • Rian Truter July, Monday 22 2013 at 2:18 pm #

      Helene – Dankie. Ek sal gaan kyk by jou blog. Het ook so tweetalig begin, maar nou omtrent net Afrikaans. Daar is te min stemme in Afrikaans. Mooi loop!

  4. larisha March, Thursday 30 2017 at 3:29 pm #

    Ek is mal oor Perde maar ek bly in noord wes. Ek wens elke dag ek n perd gehaad so die here sal sord dat hulle oorleef en dat hulle sal gered word

Leave a Reply