Free Francois

’n Vriend van my stuur my nou die dag hierdie ysingwekkende nuus oor ’n familielid van hom. Lees die onderstaande gedeelte wat in Beeld verskyn het en kyk of jy nie in ’n koue sweet uitslaan nie. (Dubbelkliek om te vergroot)

Wat as dit jou kind was?  Ons kind ís in Abu Dhabi!

Om Francois terug te bring gaan baie gebede en geld kos. Gebede is maklik, want jy kan dit sommer daar waar jy dié storie lees doen, maar geld is ook wat hulle nou nodig het.

Dit is dan ook om die rede dat my vriend Erich Cloete ’n nuwe manier van fondsinsameling op die proef stel.

Crowdfunding.

Dadelik hoor ek jou sê, wat is dit?

Crowdfunding is ’n manier om fondse in te samel deur vir baie mense, waarvan jy die meeste nie ken nie, vir ’n klein bydrae te vra. Jy hoef dus nie jou erfporsie weg te gee nie. Elke rand is ’n spreekwoordelike druppel in die emmer.

Op dié oomblik het hy al R 8 350 ingesamel, maar dis nog baie ver van wat nodig is. As as jy weet van iemand wat n passie vir so iets sal hê, of wie se hart op die regte plek sit, stuur asseblief hierdie storie aan.  Aan so veel mense as wat jy ken. Dankie.

Hier is die skakel:  https://gogetfunding.com/free-francois/

Kom ons bring vir Francois huis toe… waar hy hoort.
The purpose of human life is to serve, and to show compassion and the will to help others. – Albert Schweitzer

Love and compassion are necessities, not luxuries. Without them humanity cannot survive. – Dalai Lama

True compassion means not only feeling another’s pain but also being moved to help relieve it. – Daniel Goleman

francois-001

Continue Reading

Elke pleister het sy eie storie.

10720810

Het jy miskien al gewonder wat rugbyspelers op die pleister wat hulle om hulle polse draai, skryf?

Dié pleisterskrywery het veral onder rugbyspelers begin posvat en hulle skryf van geliefdes se name tot aanhalings om hulle te motiveer, op hierdie stukkie taai materiaal.

Die meeste sportmanne het maar die een of ander ritueel wat hulle glo hulle gaan help om sukses te behaal. Party glo hul sokkies moet nie opgetrek wees nie en ander wil elke keer voor ’n wedstryd op dieselfde plek in die kleedkamer sit.

Is dié geskrywery dan ook maar net nog so ’n ritueel?

Party skryf selfs net ’n klomp syfers neer. Onverstaanbare getalle vir diegene wat nie weet wat dit beteken nie, maar gelaai met inhoud vir die wat weet wat dié syfer op die pleister beteken.

Suid-Afrikaners herken dadelik die syfer 46664 as Nelson Mandela se nommer op Robbeneiland en begryp die betekenis daarvan. Menige Suid-Afrikaanse sportspan het dan ook met dié nommer op die mou op die veld gedraf.

Ook op Aaron Cruden (All Blacklosskakel) se gewrig pryk elke wedstryd die kode GEJ0342 – sy hospitaaltoelatingsnommer. As negentienjarige is hy deur ’n uiters moeilike tyd toe hy vir nege weke chemoterapie vir testikulêre kanker moes ontvang!

Vandag is hy genadiglik genees, maar hy sê dié syfer herinner hom elke dag dat hy al moeilike tye oorleef het en dat hy wat die wedstryd of lewe na hom gooi, kan hanteer. Maar meer nog; dit herinner hom om gedurig te onderskei tussen wat in die lewe belangrik is en wat nie.

Self moes ek die afgelope tyd opnuut besef hoe broos en feilbaar die menslike liggaam is. Niemand in hierdie wêreld word gevrywaar van enige siekte of ramp nie. Óf jou naam nou Aaron óf Rian is. Óf jy negentien óf drie en sestig is. Jou beurt is jou beurt!

Maar in hierdie spesiale kolfbeurt van jou is dit nogal belangrik wat jy op die pleister om jou pols skryf, want hierdie pleister maak nie net gesond nie, maar bepaal ook vir baie die koers en tempo van herstel.

So het die syfer 153 vir my in die tyd wat ek met prostaatkanker gediagnoseer is, en na die operasie, ’n baie spesiale betekenis gekry.

Nee, 153 is nie my toelatingsnommer of iets dergliks nie. Dit is eintlik ’n getal wat ek al baie keer in my lewe moes gelees het, maar nog nooit eintlik begryp het nie. Kom ek verduidelik.

In Johannes 21 verskyn Jesus na sy kruisiging by die See van Tiberias aan sy dissipels. Ja, dit is daar waar hulle niks vang nie en Jesus vir hulle sê om die net aan die regterkant van die skuit uit te gooi.

En toe vang hulle so baie vis dat hulle nie weer die net kon intrek in die skuit nie. Hulle moes dit wal toe sleep!

En dan in vers 11: Daar was 153 groot visse in die net. Al was daar so baie vis, het die net verbasend genoeg nie geskeur nie. (Die Boodskap)

Skielik kyk ek met ander oë na hierdie storie wat ek al van kindsbeen af ken. Dit is asof ek die syfer 153 vir die eerste keer sien, al moes ek dit hoeveel keer vantevore gelees het.

En ek besef die Here se genade is nie sommer net ’n hoop vis in ’n net nie. Nee, die Here se genade is baie spesifiek. Om presies te wees, 153 spesifiek!

Die dissipels het nie honderd een en vyftig of honderd twee en vyftig visse nodig gehad nie, maar 153!

En net so ontvang elkeen van ons presies dié porsie genade en hoop wat ons nodig het van die Here. Ook nie iemand anders sin nie. Net joune; presies afgetel tot by jou eie 153.

Nog belangriker. Hoe groot of baie die visse is; jou net sál nie skeur nie!

Jou net is deur die genade sterk genoeg om jou 153 groot visse aan wal te bring. Al moet jy dit wal toe sleep!

My pleister se kode is ietwat korter as as Aaron sin. Geen letters nie; net syfers. Net 153 wat my elke dag herinner dat Jesus se genade so oorvloedig is soos die vis in die see.

Wat staan op jóú polspleister geskryf?

Dit is maklik om populêre spreuke en gesegdes neer te pen, maar die truuk is om dít wat jy daar skryf, uit te leef.

As ons dit nie doen nie, is ons gedagtes niks meer as ander mense se menings nie en die geskryf op ons pleisters niks anders as ’n aanhaling van iemand ander se passie nie.

En watter vermorsing van 153 visse sal dít nie wees nie!

 

Human spirit is the ability to face the uncertainty of the future with curiosity and optimism. It is the belief that problems can be solved, differences resolved. It is a type of confidence. And it is fragile. It can be blackened by fear and superstition. – Bernard Beckett

Geloof is nie om te glo dat God sal doen wat jy wil hê Hy moet doen nie. – Max Lucado

Faith is to believe what you do not yet see; the reward for this faith is to see what you believe. St. Augustine of Hippo
Foto: Sunday News (Rugby Heaven)

Continue Reading

Ontmoet vir Andrew

Ek praat so baie van Andrew dat mense my nou begin vra of hy regtig bestaan. Is hy dalk nie net ’n verdigsel van my brein om in my aanbiedings te gebruik nie? Dalk ’n karakter soos Deon Meyer se bobaasspeurder, Bennie Griessel!

Dat Andrew wel ’n karakter is, dit is nie te betwyfel nie, maar hy is vlees en bloed en alles wat daarmee gepaard gaan.

Om te wys hoe Andrew lyk, en om alle wantroue uit te skakel, het ek ’n klein video van Andrew gemaak. Sommer ook om te hoor of hy al van die Education Summit gehoor het.

Kliek op die onderstaande skakel om Andrew in lewende lywe te sien:

Lees ook van Andrew deur op sy naam in die eerste sin te kliek.

Continue Reading

As jou kop raas.

Cartoon of man with messy hair, bags below bloodshot eyes, and stubble on face and chin

Nou die middag luister ek hoe ’n skoolhoof vertel dat sy snags nie kan slaap nie, want haar kop kom net nie tot rus nie. Ek is seker almal van ons weet presies waarvan sy praat, want die meeste mense ken dié gevoel.

Dit is daardie vroegoggend, magtelose gevoel dat skape tel boggherol help. Jy het alles (behalwe drank) probeer, maar jy kán net nie die geraas in jou kop stil kry nie! Dit voel kompleet of jou kop ’n leë konfytblik vol klippe is.

En om sake te vererger, onthou jou brein, wat deesdae die onbenulligste feite nie kán onthou nie, al die idiome oor leeg en klippe wat jy geleer het!

Die kopdokters sal natuurlik verskeie redes kan aanvoor waarom dit vir jou voel dat jou kop raas.

Vir die skoolhoof wil ek eintlik net sê dat sy nie bekommerd moet wees nie. Dit is nie ’n mediese probleem nie. Die klippe in die kop kom eintlik maar saam met die job!

Die persone wat haar aangestel het, het net vergeet om te sê dat dit een van die newe-effekte van dié posvlak is. Maar sy moet tog die uitdrukking, uneasy lies the head that wears the crown, ken?

Vir die res van ons gewone voetvolk is dit ook nie vreemd dat jou kop raas nie. ’n Gewone dag in Mzanzi is genoeg om enige Amerikaner, Brit of Griek nooit ooit weer te laat slaap nie!

Maar laat my toe om net ’n paar alledaagse wakkerblyklippe in jou pad te rol.

Eerste voorbeeld: Hoe kan enige iemand, behalwe ANC-lede, slaap na jy die opening van ons parlement aanskou het?

Tweede voorbeeld: Die waarde van jou kosbare Suid-Afrikaanse rand teenoor omtrent enige ander geldeenheid in die wêreld.

Derde voorbeeld: Die droogte in ons land en wêreldwye klimaatsverandering.

Vierde: Armoede en korrupsie.

Vyf: Soek jy regtig nog?

Ok, jy gee toe. Maar hoe gemaak om dié geraas af te skakel?

Ek wil my nou nie as ’n doktor Phil uitgee nie, maar ek dink die maklikste is om eers al die klippe uit te gooi. Spreekwoordelik, natuurlik. Want dit is tog wat jy met ‘n regte blik met klippe sou doen.

Keer die blik om en gooi die klippe op ‘n hoop. Die maklikste is natuurlik om die hele hoop klippe net daar te los, jou blik te vat en weg te stap. As jy dít kan regkry, is jy van die gelukkiges. Jy gaan ‘n verkwikkende nagrus hê.

Maar vir die ander van ons wat nie van die hoop klippe kán wegstap nie, wil ek voorstel dat jy elke klip op sy eie sal optel, sal weeg en dan besluit of dit die moeite werd is om dit weer in die blik te sit. ‘n Mens kán mos nie elke klip kop toe vat nie!

Kan jy enigiets aan die klip se saligheid verander deur dit in die blik terug te sit? Indien nie; los dit op die hoop. Net klippe wat die potensiaal het om te verander, beland weer in die blik.

As jy met hierdie proses klaar is, het jy hopelik minder klippe wat minder geraas sal maak. Klippe wat in plaas van ‘n kakofonie ‘n rustige melodie in jou kop speel.

Maar of al die klippe ooit sal verdwyn; dit sal ek nie kan sê nie.

Myne raas nog gereeld!

 
Worry does not empty tomorrow of its sorrow, it empties today of its strength. – Leo Buscaglia

Fear can keep us up all night long, but faith makes one fine pillow. – Philip Gulley

There is a great difference between worry and concern. A worried person sees a problem, and a concerned person solves a problem.
– Harold Stephen

Continue Reading

Children will listen.

IMG_0352

Gedurende die vakansie kyk ek een aand na Josh Groban op die TV en toe hy die lied  Children will listen van Into the Woods sing, toe weet ek dat ek weer na dié woorde moet gaan kyk. Die onderstaande is ’n gedeelte uit die lied wat vir alle volwassenes van uiterste belang is. Veral vir ouers, grootouers en onderwysers. In kort; almal wat ’n kind se lewe kan beïnvloed!

Careful the things you say
Children will listen
Careful the things you do
Children will see and learn
Children may not obey, but children will listen
Children will look to you for which way to turn
To learn what to be
Careful before you say “Listen to me”
Children will listen
Careful the wish you make
Wishes are children…

Lirieke: Stephen Sondheim

Foto: Kleinkinders (Kersfees 2015)

Lees ook Franciscan Benediction

Continue Reading

Wie bly daar?

ID-10012701

Het jy al ooit oor die Karoo gevlieg, en as jy ’n plaashuis se dak daar ver onder sien blink, gewonder wie bly daar?

Is dit iemand se oom wat, soos Laurika sing, soet koffie drink met sy een oog toe. En die tannie tee?

Is dit iemand se oom op sy plaas in Afrika wat bid vir ’n paar druppels reën? Iemand wat nóú nog praat van Mannetjies Roux en sy drie?

En daai stofstreep daar in die verte?

Is dit dalk Opperman se drie manne wat fluks aanstryk in die haai Karoo?

Met hul bondels op die rug en kieries soekend in die jakkalspad al agter die ster aan wat doer in die verte wil verdwyn.

En dan skuif ’n paar wit wolkies ongevraag voor die venster in en die blink van die plaasdak verdwyn so skielik soos wat dit verskyn het.

In die eentonige gesuis van die vliegtuig wonder ek oor die ster en die mense daar onder.

Ken hulle mekaar? Die boer en die stervolgers.

En die wit wolke? Waar kom hulle vandaan en waarheen is hulle oppad?

Hoop hulle kom nie in die pad van die ster nie, want dan gaan die manne daar onder die spoor byster raak.

Miskien is dit al die wolke, donker wolke, wat ons in hierdie land van die spoor af dwing. En laat moed verloor. En die ster verduister.

Donnerse wolke!

 
God writes the Gospel not in the Bible alone, but also on trees, and in the flowers and clouds and stars. – Martin Luther

I’m a dreamer. I have to dream and reach for the star, and if I miss a star then I grab a handful of clouds. – Mike Tyson

Mystery creates wonder and wonder is the basis of man’s desire to understand. – Neil Armstrong

 
Image courtesy of Federico Stevanin at FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

Malala Yousafzai – Staan op en laat jou stem hoor!

booksnotbullets-share-584x302

Ongelooflik om te dink dit is die laaste maand van 2015!

Bostaande sin is natuurlik die cliché wat oor hierdie dae gereeld gebruik word, maar dit bly egter net skrikwekkend waar die tyd heen verdwyn het! En dit is hierdie onverantwoordbare, verdwene tyd wat my aan die einde van hierdie jaar ietwat ongemaklik maak.

Daarom sommer dadelik my eerste voorneme vir 2016: moenie dat jy wonder oor wat van die tyd geword het nie, weet wat jy daarmee gedoen het!

Ek het gister na die film He named me Malala gaan kyk. En wat ’n belewenis, want ek was nog altyd ’n reuse-aanhanger van hierdie ouwêreldse, wyse meisie!

Almal wat wonder oor tyd, sy/haar doel en visie op aarde moet hierna gaan kyk. En moet asseblief nou net nie weer dink dit is iets wat later gedoen kan word nie. Doen dit nou!

Malala Yousafzai se verhaal is aangrypend en inspirerend. Ouers, grootouers en veral onderwysers móét dié fliek gaan kyk. En haar boek I am Malala lees. Jy gaan nie onaangeraak deur hierdie proses kom nie; dit kan ek jou belowe.

Ek gaan nie hier die storie van Malala vertel nie; dit kan jy self gaan kyk of lees. Ek wil net ’n paar van haar wyshede aan die einde van 2015 met jou deel.

I don’t want to be remembered as the girl who was shot. I want to be remembered as the girl who stood up.

We realise the importance of our voices only when we are silenced.

One child, one teacher, one book, one pen can change the world.

I raise up my voice – not so I can shout, but so that those without voice can be heard.

When the whole world is silent, even one voice becomes powerful.

Ten slotte wil ek jou bedank dat jy hierdie jaar Piesangs & Jellietots gelees het. Dankie vir almal wat kommentaar lewer. Ek waardeer dit geweldig. (Daar is ’n praatborrel regs bo die post waarop jy kan kliek om saam te praat.)

Ek wil vir jou en jou geliefdes ’n baie geseënde Kersfees toebid. Mag jy Jesus se genade en liefde in elke senuweepunt van jou wese ervaar en beleef.

’n Voorspoedige 2016 wil ek ook vir jou toewens, maar met minder geesdrif as my Kersfeeswens aan jou. Ek wil jou eintlik ’n ietwat ongemaklike 2016 toewens sodat jy rusteloos en kriewelrig kan raak oor:
– Armoede in ons land en oor die hele wêreld!
– Misdaad en korrupsie!
– Oninspirerende onderwys en beleide!
– Hopelose en visielose leierskap!
– Gebrek aan rolmodelle!

Kom ons besluit om soos Malala in die nuwe jaar op te staan en te sê: Tot hier toe en nie verder nie!

Mooi loop en vrede.

Continue Reading

‘n Man moet ‘n way hê.

Sakkie Kotze

Sakkie Kotze

Dit is weer tyd vir die jaarlikse Faithveiling en die genooides se beursies staan wyd oop vir dié goeie saak.

Beyers veil op en vertel stories. Tussen al dié, is daar veral een wat by my vassteek.

Die staaltjie oor Sakkie Kotze se sêgoed. Sakkie die wynmaker van Le Bonheur. Sakkie wat ook reeds sy plek om die Here se langtafel ingeneen het.

Sakkie het glo die manier gehad om te sê: ’n man moet ’n way hê.

Amper asof ’n man/mens sonder ’n way, maar vaal en oninteressant is. Amper identiteitsloos.

Hierdie woorde van Sakkie het my onwillekeurig oor my eie way laat wonder (skielik sing Frank Sinatra saggies in die agtergrond I did it my way…

Het ek ’n way? En as ek een het, waarheen gaan hierdie way van my?

Is dit net my way wat tel en te hel met jou way?

Is dit my way wat maak dat ek die pad byster raak en weerlose mense in Parys afmaai?

Is dit my way om my beursie so vol as moontlik te kry en dan my waarde en sekuriteit daaraan te meet?

En so kan ek aangaan, maar vanoggend lees ek van Fransie (Francois Lourens) se way:

Aan die einde van Fransie se lewe hier op aarde gaan dit nie oor hoeveel hy gehad het nie, maar hoeveel hy gegee het. Nie hoeveel hy gespaar het nie, maar hoeveel hy opgeoffer het en opreg lief gehad het. Al wat hy saam gevat het, is dit wat hy op aarde weggegee het. Fransie het die fees van die lewe met ander gedeel. Mag hy nou die Hemelse fees beleef. (1956 – 2015)

Ek glimlag so half tussen die nat in my oë en sien vir Sakkie en Fransie (en seker Frank ook) om die langtafel met ’n glas Le Bonheur cabernet in die hand en hulle sing:

For what is a man, what has he got? If not himself, then he has naught.

Cheers!

Sakkie was reg.

’n Man móét ’n way hê!

 

Be yourself; everyone else is already taken. – Oscar Wilde

We know what we are, but not what we may be. – William Shakespeare

Don’t let the noise of other’s opinions drown out your own inner voice. – Steve Jobs

Foto: Winetimes.co.za

Continue Reading

Terwyl standbeelde tuimel

rhodes-lead_3261770b

…dobber ons jeug in ’n lugleegte van koploseleierskap rond.

Sonder ’n verlede, ’n vae hede en ’n onsekere toekoms.

Nóú, meer as ooit, is dit die tyd vir ouers, grootouers en onderwysers om hierdie vakuum met besielende leierskap te vul.

’n Leierskap wat sê: Volg my! Ek weet waar jy vandaan kom en ek gaan jou wys waarheen jy op pad is.

’n Leierskap waarvan die dade en voorbeeld meer wys as hoeveel volgelinge jy op Twitter of Facebook het. ’n Rolmodelskap wat getuig van Nelson Mandela se woorde en nalatenskap: For to be free is not merely to cast off one’s chains, but to live in a way that respects and enhances the freedom of others.

Self gee ek eerlik nie om of alle standbeelde in Suid-Afrika verwyder word nie, maar my wroeging is, waarmee vervang ons dit?

’n Vredevolle trooskombersie waaruit ons kinders niks wys word nie? ’n Rooskleurige vakuum waarin alles net goed en gaaf is en vir ewig so sal bly?

Hoe gaan hulle dan ooit uit ons foute leer?

Hoe gaan hulle weet om nie dieselfde foute as ons te maak nie? Veral as sommige Suid-Afrikaners verkies om die verlede onder swart vullissakke (Rhodes), te verbloem.

Miskien verstaan dié onbekende Nederlander, nogal ironies want volgens my is hulle die oorsaak van al die gekheid in hierdie land, dit die beste as hy/sy sê als je niet leert van het verleden, zal je in die toekomst telkens nieuwe lessen krijgen.

Nee, ons sal ons kinders moet wys waar hulle vandaan kom sodat hulle kan begryp waarheen hulle op pad is. Op pad na ’n toekoms vol moontlikhede en vryheid.

Maar ook om te wys dat die verlede nie net altyd boos was nie.

Op pad na ’n toekoms wat nie deur lewelose, koue stukke klip en metaal gedefinieer word nie, maar deur die voorbeeld van lewende rolmodelle wat as rigtingwysers staan.

Lewende rolmodelle wat leef uit ’n tradisie… Of soos die seun van Sutherland, NP van Wyk Louw, dit gestel het – leef in ’n bestendige debat met die verlede.

 
Forgiving does not erase the bitter past. A healed memory is not a deleted memory. Instead, forgiving what we cannot forget creates a new way to remember. We change the memory of our past into a hope for our future. – Lewis B Smedes

O, yes the past can hurt. But you can either run from it or, learn from it. – The Lion King

We are made wise not by the recollection of our past, but by the responsibility for our future. – George Bernard Shaw

Foto: AP

Continue Reading

Is ouderdom só goor?

ATT00019Ek hoor nou elke dag meer en meer dat om oud te word nie vir sissies is nie.

So asof almal my teen die ouderdom wil waarsku. Asof alles van ouderdom net altyd sleg of onaangenaam is.

Of is dit dalk dat hulle dink dat ek ’n sissie is?

Het ouderdom dan geen positiewe kant nie?

Is dit net tieners en dié onder veertigs op wie die son kan skyn? Nie dat ek kon onthou dat puisies en onkunde enige pret was nie, maar miskien het ek net vergeet hoe lekker dit was.

Wat baie mense nie besef nie, is dat daar voordele aan ouderdom verbonde is. En hier praat ek nie net van goedkoper gaan fliek of op die bus ry nie. Nie dat die laatste een in Suid-Afrika ’n opsie is nie!

Kenners beweer dat senior burgers gelukkiger as hulle jonger eweknieë is. En in teenstelling met die algemeen aanvaarde persepsie dat jou brein totaal aan die ineenstort is, beweer dié slim mense dat sekere dele van die brein beter funksioneer as in die verlede. (Laat dit nou vir julle jonges ’n les wees.)

Maar my waardering van ouderdom is nie so wetenskaplik gefundeerd as bostaande navorsing nie.

Myne was sommer ’n laatnag hartsgewaarwording van ’n baie dankbare oupa.

Luca het gister vyf geword en ek het opnuut besef dat om oupa te wees en om jou kleinkinders se armpies om jou nek te voel, net iets is wat met die ouderdom gepaard kan gaan. Jy moet eers daardie grens van nie-sissie-wees-nie, oorsteek om dít te ervaar.

Maar ek het my eie kinders, hoor ek jou sê.

Toegegee, eie kinders is verby kosbaar. Maar kleinkinders is soos ’n ekstra bonus. ’n Onverwagte Lotto-wen! Kleinkinders en al die gepaardgaande, ongelooflik kosbare gewaarwordinge is ’n fase van die lewe, wat ek vir geen terugdraai van die horlosie, sal verruil nie.

En as ek dalk as jeugdige geweet het hoe vervullend dié ervaring sou wees, sou ek dalk gouer oud wou wees! Of soos my goeie vriend Dan van Zyl senior altyd sê: As ek geweet het hoe lekker kleinkinders is, sou ek hulle eerste gehad het!

Dankie, Here vir die genade om oud te kan word!

 

None is so old as those who have outlived enthusiasm.Henry David Thoreau

Because if you’ve found meaning in your life, you don’t want to go back. You want to go forward.Morrie Schwartz

Learn how to live and you’ll know how to die; learn how to die, and you’ll know how to live. – Morrie Schwartz

Image: Daily Telegraph.com.au

Continue Reading